Christendom in Afrika

Die Kerk van Sint Georgius in Lalibela, Ethiopië.

Die Christendom in Afrika het Egipte eerste bereik, in die middel van die 1ste eeu n.C. Teen die einde van die 2de eeu het dit ook die streek om Kartago bereik. In die 4de eeu het die Koninkryk Aksum in die hedendaagse Eritrea en Ethiopië een van die eerste streke in die wêreld geword wat die Christelike geloof as ’n amptelike geloof aanvaar het, gevolg deur die Nubiese koninkryke Nobatië, Makoerië en Alodië twee eeue later.

Belangrike Afrikane wat die vroeë ontwikkeling van die Christendom beïnvloed het, sluit in Tertullianus, Clemens van Alexandrië, Origenes van Alexandrië, Cyprianus van Kartago, Athanasius en Augustinus van Hippo.

Sedert die verspreiding van die Islam na Noord-Afrika het die grootte van Christelike gemeentes afgeneem, sodat van die oorspronklike kerke net die Grieks-Ortodokse Kerk van Alexandrië en die Kopties-Ortodokse Kerk van Alexandrië oorgebly het (hulle het ná die Konsilie van Chalcedon geskei geraak), asook die Ortodokse Tewahedokerk (wat geskei geraak het in die Ethiopies-Ortodokse en Eritrees-Ortodokse Tewahedokerk) in die Horing van Afrika.

Die Keiserryk van Ethiopië was die enigste streek in Noord-Afrika wat die uitbreiding van die Islam as ’n Christelike staat oorleef het.[1] Die Ethiopiese kerk het sy eie, besonderse godsdiensgebruike en ’n unieke kanon van die Bybel gehad. Die Ethiopiese Christendom was dus nie die produk van Europese sendingwerk nie, maar is heelwat vroeër deur sendelinge versprei.[2]

Vandag word die Christelike geloof aangehang deur die meerderheid bevolkings in Suider-Afrikaanse, Suidoos-Afrikaanse en Sentraal-Afrikaaanse state en ander in sommige dele van die Horing van Afrika en Wes-Afrika. Die Koptiese Christene maak ’n aansienlike meerderheid in Egipte uit. In 2020 was 49% van die kontinent se bevolking Christelik, terwyl Moslems 42% uitgemaak het.[3] In ’n redelik kort tyd het Afrika verander van ’n kontinent met hoofsaaklik inheemse, tradisionele godsdienste tot een van hoofsaaklik Christene en Moslems. Sedert 2013 maak volgelinge van ’n tradisionele Afrikagodsdiens net in Togo die meerderheid uit. Dit is egter belangrik dat daar in die meeste gemeenskappe in Afrika wat hulleself as Christene beskou, ’n aansienlike samesmelting met tradisionele gelowe en praktyke is.[4]

Volgens data van die Gordon-kweekskool is daar vir die eerste keer meer Christene in Afrika as op enige ander enkele kontinent.[5] "Die resultate wys Afrika heel bo met 631 miljoen Christelike bewoners, Latyns-Amerika in die tweede plek met 601 miljoen Christene, en Europa in die derde plek met 571 miljoen Christene."[6]

  1. "History Of Ethiopia". historyworld.net.
  2. http://www.africanchristian.org African Christianity
  3. Gordon Conwell Theological Seminary, African Christianity, 2020
  4. Rosalind Shaw, Charles Stewart, Syncretism/Anti-Syncretism: The Politics of Religious Synthesis (1994)
  5. Johnson, Todd M.; Zurlo, Gina A.; Hickman, Albert W.; Crossing, Peter F. (November 2017). "Christianity 2018: More African Christians and Counting Martyrs". International Bulletin of Mission Research. 42 (1): 20–28. doi:10.1177/2396939317739833. Besoek op 24 September 2019.
  6. Mauro, J.-P. (24 Julie 2018). "Africa overtakes Latin America for the highest Christian population". Aleteia — Catholic Spirituality, Lifestyle, World News, and Culture (in Engels). Besoek op 24 September 2019.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search